Alles wat jy in die lewe nodig het

Lewe Voluit

Petrus skryf: '...sy Goddelike krag [het] ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe.' Om die lewe voluit te lewe, is drie dinge nodig:

1) 'n Bietjie ekstra. Dis die ekstra myl beginsel wat Jesus ons geleer het (sien Matteus 5:41) en verg twee dinge:

a) Ekstra inspanning. Die lewensafrigter en skrywer Art Williams het gesê: 'Jy klop 50 persent van mense deur hard te werk... die ander 40 persent deur 'n eerlike persoon met integriteit te wees... en die laaste 10 persent is 'n luggeveg.' As jy wil wen, moet jy besluit om altyd 'ietsie ekstra' te doen.

b) Ekstra tyd. '...Stadig maar seker breek die tyd aan... Wag geduldig... Wees seker dit gaan gebeur...' (Habakuk 2:3).

Gutzon Borglum, die beeldhouer wat die Mount Rushmore gedenkteken van die Amerikaanse presidente geskep het, is gevra of hy dink dat sy werk perfek is.

Hy het geantwoord: 'Nie vandag nie, president Washington se neus is 'n paar sentimeters te lank. Dis egter beter so. Dit sal verweer en oor tienduisend jaar presies reg wees.'

2) Jou beste poging. Andrew Carnegie het gesê: 'Dit help nie om mense te probeer help wat nie hulleself wil help nie. Jy kan nie iemand by 'n leer opstoot tensy hy of sy eers gewillig is om dit te klim nie.'

3) Die regte mentor. Paulus skryf: '...volg my voorbeeld...' (Filippense 3:17). Goeie mentors lei deur goeie voorbeelde te wees; hulle weet dat hulle eers respek moet verdien voor mense hulle sal volg. Hulle weet of jy 'n klop op die skouer of 'n skop op die bas nodig het.

As jy so 'n mentor het, is jy geseënd. As jy nie so 'n mentor het nie, vra God om een vandag oor jou pad te stuur.

Spread The Love

Leave a Comment

Scroll to Top