Daar word ’n legende vertel van ’n man wat in die woestyn verdwaal het en besig was om te sterf van die dors. Hy het op ’n ou gehuggie afgekom en ’n geroeste waterpomp langsaan sien staan.
Hy het daarnatoe gestrompel, die handvatsel gegryp en dit op en af begin pomp. Niks wou uitkom nie!
Hy sien toe ’n bottel wat langsaan staan met dié woorde daarop: “My vriend, jy’t die water in die bottel nodig sodat die pomp kan werk. En onthou om weer die bottel vol te maak as jy klaar water gedrink het!”
Die man het toe ‘n baie moeilike keuse om te maak: As hy die bottel leegdrink weet hy hy gaan lewe, as hy dit gebruik om in die pomp af te gooi sal hy net kan hoop dat hy meer as genoeg water sal hê vir ‘n baie lang tyd.
Hy het diep nagedink oor sy opsies. Kon hy die kans waag? Sou dit vir hom die beloning van vars yskoue water gee? Teen sy sin het hy begin om die water in die pomp af te gooi en stadig aan begin pomp.
Aanvanklik het niks gebeur nie! Na nog ‘n rukkie se gepomp begin ‘n paar druppels uitloop en toe ‘n klein straaltjie en toe ‘n stroom yskoue fonteinwater!
Hy het die bottel gretig volgemaak en begin drink. Weer en weer het hy van die verfrissende inhoud gedrink. Uiteindelik het hy die bottel vir die volgende reisiger volgemaak.
Hy het dit propvol gemaak, die prop bo-op gesit en sy eie briefie bygeskryf: “Glo my, dit werk regtig!”
My vriend, moenie die boodskap wat Jesus agtergelaat het ignoreer nie: “Gee, en vir julle sal gegee word.”