Gedurende die eerste eeu het stede soos Rome mense van baie verskillende kulture, tale, gelowe en gebruike aangetrek. As gevolg daarvan het dit soms gebeur dat die kerk se missie om dissipels van alle nasies te maak, tot konflik gelei het.
Sommige gelowiges het byvoorbeeld aangehou om 'n sewende dag Sabbat te onderhou, terwyl ander wat nie vleis geëet het nie, wou aanhou vegetariërs wees. Dis die rede hoekom Paulus geskryf het: 'Julle moet medegelowiges met 'n sensitiewe geloofsbelewing aanvaar sonder om hare te kloof oor hulle oortuigings.'
Let op, hy het nie vir ons gesê om hulle net te verdra nie, maar om hulle te aanvaar - om hulle te verwelkom, te ontvang, te erken en voorsiening te maak vir diegene wat nie presies soos ons is nie.
Selfs al is die kwessies waar ons vandag voor te staan kom anders as die kwessies van die vroeë kerk, is dit steeds maklik om verdelend en veroordelend te word.
Wanneer regmatige verskille oor fundamentele kwessies egter te voorskyn kom en daar geen ruimte vir onderhandeling is nie, tree op 'n Christelike manier op sonder om te baklei, te kritiseer of op ander mense neer te kyk.
'As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer' (Romeine 12:10).
Leer om jou medegelowiges te respekteer nie as gevolg van wie hulle is nie, maar as gevolg van wie s'n hulle is!
Paulus skryf: 'Mag God, wat die bron is van standvastigheid en bemoediging, julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe... Dan sal julle almal in 'n wonderlike eenheid van gees en uit een mond die lof toebring aan God...' (Romeine 15:5-6).